Back Terug
Wie de hel is Philip Nel?
soos goeie wyn
15 Gedigte - In volgorde van CD
Aflaaibare Liedjies & Kontak Besonderhede

NUUT!!!

Die BREEK OOP reeks

BESTEL NOU
Skakels

 
 

15 Gedigte - In volgorde van CD

 
 
Vier mure teen die Suidewind -
my swartoogvrou, my blondhaarkind.
 
Kareehoutstompe in die vuur,
 ketel en kaggel brons geskuur.
 
My bont koei lê op koringstrooi,
my swart haan roep die dagbreek rooi.
 
Soet deur die lang nag sing die reën; moflammers sal ek vroeg-Mei speen.
 
Die wendam stoot sy uitloop oor -
blink breek my ploeg die middelvoor...
 
                G A Watermeyer: Sekel en simbaal, 1948
 
 
1.Was jy ooit by 'n "sheepskin"-dans,
   Byvoorbeeld daar by ou Stefaans,
                              van Hartebeesfontein?
 
2. Jors Vlek en ek en Rooi Waldek
    Span boggie in een aand en trek
                              na Hartebeesfontein.
 
3. "Naand, oom Stefaans! Naand, Tante! Naand.
    Hoe gaat dit nog met jul vanaand
                             op Hartebeesfontein?"
 
4. Nee, nefies, goed; maar kom dan in,
    Aans gaan ons met die dans begin,
                              op Hartebeesfontein.
 
5. "Laat ons dan eers 'n snapsie steek,
    Dis goed om vrindskap aan te kweek 
                              op Hartebeesfontein."
 
6. So praat Rooinip, en in 'n jif
    Trek hy 'n prop uit 'n bottel gif
                               op Hartebeesfontein.
 
7. Oom Faan het soos 'n perd gedrink,
    En Tante het ook gehelp skink,
                                op Hartebeesfontein.
 
8. Dis bruilofaand by ou Stefaans,
    En ieder man wat soek syn kans,
                                op Hartebeesfontein.
 
 9. Om takhaarnÔientjies om te praat,
     Hul denk aan niks as kattekwaad,
                                op Hartebeesfontein.
 
 10. Oom Faan se Fieta het getrou
       Met Dolfie, seun van Danie Louw,
                                 op Hartebeesfontein
 
 11. 'n Bietjie vet, maar rats, was sy,
       Verduiwels mooi ook nog daarby,
                                 op Hartebeesfontein
 
12. Ons dans toe dat die stof so staan;
      Rooinip loop los voor in die baan
                                 op Hartebeesfontein
 
13. Een ding was daarom openbaar:
      Fieta en hy boer bymekaar,
                                 op Hartebeesfontein
 
14. Dolfie sit in 'n hoek en kook,
      Hy het syn hart vol haat gestook,
                                 op Hartebeesfontein
 
15. Syn bruid haang aan Rooinip syn lyf,
      Dit was vir hom g'n tydverdryf,
                                 op Hartebeesfontein
 
 16. Dis 'n getrap en 'n rumoer,
       Die fyn stof slaan op van die vloer,
                                 op Hartebeesfontein
 
17. So nou en dan verdwyn tweestuk,
      Ek meen om vars lug in te sluk,
                                 op Hartebeesfontein
 
18. Rooinip was in syn element,
      Hy dink nie oor syn testament,
                                 op Hartebeesfontein
 
19. Op hoogste punt van die geraas
      Word vetkers skielik uitgeblaas,
                                 op Hartebeesfontein
 
20. Die nÔiens skree; die tyd is ryp
      Om in die donker kat te knyp
                                 op Hartebeesfontein
 
21. Ek hoor maar net vir Dolfie skrou:
      "Steek op die kers, kwajongens, gou!"
                                 op Hartebeesfontein
 
 22. Lig in die duisternis, maar ag!
       Dit het ons nimmer geverwag
                                 op Hartebeesfontein
 
23. Rooinip omhels vir Fieta knap,
      Hul soen mekaar dat dit so klap
                                 op Hartebeesfontein
 
24. Die onweer het toen losgebars.
      Dis tyd vir ons om weg te mars
                                van Hartebeesfontein
 
25. Drie maal was Rooinip platgeslaan,
      Drie maal het hy weer opgestaan 
                                 op Hartebeesfontein
 
26. Al kon Rooinip verbrand groot praat,
      Hy hou syn lyf bepaald kordaat
                                 op Hartebeesfontein
 
27. Die dag het hy hul kafgeslaan
      En deur die spul syn weg gebaan
                                 op Hartebeesfontein
 
28. Myn hemp, het ek daarna bespeur,
      Was fyn en flenters, voor geskeur,
                                 op Hartebeesfontein
 
29. En Tjaart syn konsertina pas
      Al op Rooinip syn kop soos 'n kalbas
                                 op Hartebeesfontein
 
30. Voor jy kon sê "knipmes" was
      Ver weg van die takhaar-gegons
                                 op Hartebeesfontein
 
31. Toen mÔre kom, toen ry ons ver
      En van dié dag af bly ons ver
                               van Hartebeesfontein
 
Pikkedêl: Ons Klyntjie, 1898
 
Lied van die vioolspeler, Jan Konterdans, uit die Groot Woestyn
 
O die dans van ons Suster!
Eers oor die bergtop loer sy skelm,
                    en haar oge is skaam;
                    en sy lag saggies.
En van ver af wink sy met die een hand;
 haar armbande blink en haar krale skitter;
                    saggies roep sy.
Sy vertel die winde van die dans
en sy nooi hulle uit, want die werf is wyd en die bruilof groot.
 
Die grootwild jaag uit die vlakte,
                    hulle dam op die bulttop,
wyd rek hulle die neusgate
                    En hulle sluk die wind;
En hulle buk, om haar fyn spore op die sand te sien.
 
Die kleinvolk diep onder die grond hoor die sleep van haar voete,
                    En hulle kruip nader en sing saggies:
                    "Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom! Jy het gekom!"
 
En haar krale skud,
en haar koperringe blink in die wegraak van die son.
                      Op haar voorkop is die vuurpluim van die berggier;
                           sy trap af van die hoogte;
sy sprei die vaal karos met altwee arms uit;
                           die asem van die wind raak weg.
                      O, die dans van ons Suster!
 
Eugène Marais: Versamelde Gedigte, 1933
 
 
Ek is gevang
en met die stryd
êrens in die ewigheid
op 'n Ceylon verban
 
waar al my drange
na 'n verlore vaderland
my dag na dag geëiland hou
met horisonne en verlange,
 
en in die geel gloed van die kers
snags deur die smal poort
van die wonder elke woord
laat skik tot klein stellasies vers
 
wat groei tot boeg en mas
en takelwerk - en die uiteindelike
reis met die klein skip
geslote agter glas.
D J Opperman: Negester oor Ninevé, 1947
 
 
Dra saggies, vriende,
want sierpotte en erdewerk,
keurborde en fyn glas
sluit 'n hele lewe
met sy drome
en verlangens in;
 
Dra saggies, mededraers,
want die drag
van veerbed,
tafels, lessenaar
druk teen die bors
se dun skelet;
 
Dra saggies, regters,
want die oordeel
oor my klein bedryf
lê vasgevang
in prente, boeke
en 'n eie ou gemakstoel;
 
Dra saggies, gode,
want die hart se porselein
is broos en tot veel seer
en kwesbaarheid geneig:
die kratte van 'n lewe
kan so maklik breek.
 
Ernst van Heerden: 'n Tyd van Verhuising, 1975
 
 
Blom daar sporrie in Wes-Transvaal,
sing die loerie oor die Kaap?
Gooi die mense van Reitz die taal
van die vinkel en die ghaap?
 
Hang daar rookmis oor Bo-Naries
raas die teerpad by Lapsekolk?
Priem die stadsgeraas by Aughrabies
teen die kranse en die reënboogwolk?
 
- Dan wil ek met die piet-sê-so
Boontoe vlug, of iewers, na waar ek nog
in my goue vinkelland kan glo.
 
Maar daar's geen sporrie in Transvaal
net skeepsfluite in die Kaap
En die Vrystaat ken nie die taal
van die vinkel en die ghaap.
 
Naries se lug is kalsedoon,
die pad bokrib by die putse
en by Aughrabies hoor jy net loom
die Bruidsluier se wit geritsel.
 
En elke dag slyp God nog meer
kleure uit sy tieroog oop -
jy sien dit net as jy met die tkajakkals
tussen die melkbos en die vuurklip loop.
 
George Weideman: Uit: As die son kliplangs spring, 1969
 
As al julle geldgatte
               julle geld gespendit,
en julle bananaskille
               innie slootjie gegooi het,
en julle bustikkits
               soes konfetti gestrooi het,
en julle staain en cool drinks
               opgedrink het,
en julle borrels en blikkies
               in 'n gangetjie gesit het,
en julle visgraatbolle
          en vrot vrugte
                 en stukkene boksies
                        en papiere
r o n d g e g o o i  h e t . . .
 
dan kom ek
en maakie wêreld weer skoon:
soe
ek is oek important.
 
Peter Snyders: 'n Ordinary Mens, 1982
 
 
Die jaar word ryp in goue akkerblare,
in wingerd wat verbruin, en witter lug
wat daglank van die nuwe wind en klare
son deurspoel word; elke blom word vrug,
tot selfs die traagstes; en die eerste blare val
so stilweg in die rookvaal bos en laan,
dat die takke van die lang populiere al
teen elke ligte more witter staan.
O Heer, laat hierdie dae heilig word:
laat alles val wat pronk en sierraad was
of enkel jeug, en ver was van die pyn;
laat ryp word, Heer, laat u wind waai, laat stort
my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
en nakend uit my teerder jeug verskyn.
 
N P van Wyk Louw: Die Halwe Kring, 1937
 
 
In die Hoëveld, waar dit oop is en die hemel wyd daarbo,
     Waar kuddes waaigras huppel oor die veld,
Waar 'n mens nog vry kan asemhaal en aan 'n God kan glo,
     Staan my huisie, wat ek moes verlaat vir geld.
En as ek in die gange van die myn hier sit en droom
     Van die winde op die Hoëveld, ruim en vry,
Dan hoor ek die geklinkel van my spore, saal en toom,
     Sawens as ek bees of skaap toe ry.
 
Op die Hoëveld, waar dit wyd is, waar jy baie ver kan sien,
     (Die ylblou bring 'n knop dan in jou keel)
Staan mu huisie nog en wag vir my, wag al 'n jaar of tien,
     Waar die bokkies op die leigrafstene speel.
Maar as die tering kwaai word en ek hoor die laaste fluit,
     Dan sweef ek na die Hoëveld op die wind
En soek dan in die maanlig al die mooiste plekkies uit
     Waar ek kleiosse gemaak het as 'n kind.
 
Toon van den Heever: Eugène en ander Gedigte, 1931
 
 
Tussen die katel se koppenent
ennie katel se voetenent
daar lê die begin
en daar lê die einde
die begin vannie ding
ennie end vannie ding
en tussen begin en end
word jy die speletjie ooit gewend
of issit van begin tot end
meer geluk as wysheid
dajy hou toddie end
 
Boerneef: Palissandryne, 1964
 
11. Die Towenares
(Lied van die verbanne jong meisie)
 
Wat word van die meisie wat altyd alleen bly?
Sy wag nie meer vir die kom van die jagters nie;
sy maak nie meer die vuur van swart-doringhout nie.
     Die wind waai verby haar ore;
sy hoor nie meer die danslied nie;
     die stem van die storieverteller is dood.
G'neen roep haar van ver nie
     om mooi woorde te praat.
Sy hoor net die stem van die wind alleen,
     en die wind treur altyd
om hy alleen is.
 
Eugène Marais: Versamelde Gedigte, 1933
 
 
Ek bring aan jou die eerste vrugte van die land
met ingehoue vreugde en met dankbaarheid:
'n mieliekop, lemoen of roos op skurwe hand
gedra as nuwe huldes van seisoen en tyd;
jaarliks die eerste piesangtros uit die vallei
waar gramadoelas was, omdat ek nou nog voel
sonder jou liefde is die graaf te swaar vir my
en val die geil reëns van die berge sonder doel.
 
D J Opperman: Heilige Beeste, 1945
 
 
Uit hierdie Valkenburg het ek ontvlug
en dink my nou in Gordonsbaai terug:
 
Ek speel met paddavisse in 'n stroom
en kerf swastikas in 'n rooikransboom
 
Ek is die hond wat op die strande draf
en dom-allenig teen die aandwind blaf
 
Ek is die seevoël wat verhongerd daal
en dooie nagte opdis as 'n maal
 
Die god wat jou geskep het uit die wind
sodat my smart in jou volmaaktheid vind:
 
My lyk lê uitgespoel in wier en gras
op al die plekke waar ons eenmaal was.
 
Ingrid Jonker: Ontvlugting, 1956
 
 
My naakte siel wil sonder skrome
in alle eenvoud tot jou gaan,
soos uit diepe slaap ons drome,
soos teen skemerlug die bome
opreik na die bloue maan;
 
gaan met al sy donker wense,
en die heilige, nooit-gehoorde
dinge sê, waarvoor die mense
huiwer, en wat om die grense
flikker van my duister woorde.
 
N P van Wyk Louw: Alleenspraak, 1935
 
 
 Nou lê die aarde nagtelang en week
in die donker stil genade van die reën,
en skemer huise en takke daeliks bleek
deur die wit mistigheid en suising heen.
Dis alles ryk en rustig van die swaar
geheime wasdom wat sy paaie vind
deur warm aarde na elke skeut en blaar,
en ver en naby alles duister bind
in vog en vrugbaarheid en groot verlange;
tot ons 'n helder middag skielik sien
die gras blink, en die jong graan teen die hange,
en weet dat alle rus die lewe dien:
hoe kon ons dink dat somer ryker is
as hierdie groei se stil geheimenis?
 
NP van Wyk Louw: Die Halwe Kring, 1937
   Boontoe